Publieke Getuienis
Waarop moet ons nou fokus?
Sentrum vir Publieke Getuienis Taakspan

Die Sentrum vir Publieke Getuienis (Taakspan) het onlangs vergader om die werksaamhede van die Sentrum in die lig van radikale veranderinge in ons konteks onder die vergrootglas te plaas. Dit het tot ‘n indiepte bespreking van ons huidige konteks gelei. Die feit dat ons uit verteenwoordigers van die NGK én die VGK bestaan, verruim die gesprek en het ons gehelp om inderdaad met ‘n ruim lens na die wêreld om ons te kyk. Graag deel ons met julle van die belangrikste opmerkings wat gemaak is:
Burgerlike gehoorsaamheid en selfdissipline is nou van ontsaglike belang. Sou dit nie gebeur nie kan ons ons regmaak vir of groeinde anargie of ‘n stortvloed van regulasies. Elke burger se verantwoordelikheidsvlakke behoort nou te styg. Ons is van mening dat inperkings algaande verslap moet word, maar dat ons verantwoordelikheid en selfdissipline verhoog moet word. Hierin behoort die kerk ‘n voorbeeld te stel.
Oor armoede glo ons dat ons in die nabye toekoms nuwe en ongekende vlakke van armoede en ongelykheid gaan sien. COVID-19 het terselfdertyd die sistemiese en strukturele ongelykheid in ons samelewing kom blootlê. Ons sien die ongelykheid nie net in inkomste en voedselsekuriteit nie, maar ook in basiese ander dinge soos, ruimte tydens inperking, toegang tot mediese dienste, data en kommunikasiemiddele soos ZOOM en TEAMS. Ons sien die ongelykheid in gemeetes wat groter toegang tot elektroniese vorms van betaling/skenking het en ook makliker deur `n verskeidenheid van sosiale media platvorms kan kommunikeer. Vir sommige is dit maklik om sosiale afstand tydens ‘n begrafnis van 50 mense in hul kerkgebou te handhaaf. Ander se kerke is net te klein daarvoor.
Ons is oortuig daarvan dat ‘n nuwe ekonomie die lig sal sien na COVID-19, maar voel net so sterk daaroor om nou reeds die vrae te vra oor watter ekonomiese modelle die ekonomie gaan beheer en domineer. Gaan bestaande foutlyne verstek word of gaan ons die kans gebruik om te herstruktureer? Ook in die kerk, waar sommige kollegas nie seker is van hulle salarisse nie, moet ons vra hoe die nuwe ekonomie beslag moet kry?
Die woord bemagtiging word baie gebruik. Die vraag is egter hoe mense reeds tydens die grendeltyd bemagtig kan word om in en na die tyd deel te word van die ekonomie. Tans word kos ter waarde van miljoene rande uitgedeel. Ons bemagtig nie regtig mense so nie, maar kan selfs ‘n afhanklikheidskultuur versterk.
Intussen is dit belangrik om ons fokus te verskuif ook na die breër nood in ons gemeenskappe. Die behoefte is inderdaad meer as net kospakkies. Sommige mense het nie meer geld om die kos gaar te maak nie. Ons sien kollegas wat nie meer kos op die tafel het nie en lidmate wie se besighede op die rand van bankrotskap staan. Ons sien eensaamheid onder bejaardes en verwarring en selfs woede onder die breë bevolking. Trauma, wat reeds deel van ons samelewing was, verhoog steeds. Dit is uiters belangrik dat gemeentes nou deur ‘n ruim en sensitiewe pastorale lens sal kyk.
Die bestuurspan is ten slotte oortuig dat hierdie tyd ‘n gulde geleentheid skep om ons strewe na eenheid verdere konkrete uitdrukking te gee. Die tyd daag ons uit, skep ‘n geleentheid, maar kan ons ook hard oordeel sou ons nou by mekaar verbygaan. Ons is baie dankbaar oor die netwerke wat reeds op plaaslike en sinodale vlakke gevorm is en in dié dae verstewig word. Dalk is dit nou die tyd om die volgende tree met moed te gee. Indien ons nie hierdie onreg van die twee kerkstrukture (NG, VGK) regstel nie, is al ons prysenswaardige liefdadigheid slegs ‘n tiende van koljander en anys en nie die geregtigheid wat die wet en Woord van God vra nie (Mat 23:23).
Die vraag is: waar laat dit die kerk?
Meer as ooit behoort die volgende waardes gekommunikeer te word:
Die prysgawe van die self en eiebelang.
`n Nuwe beklemtoning van ware mededeelsaamheid.
`n Lewe van dankbaarheid.
`n Gees van onderskeiding en fyn aanvoeling.
Burgerlike gehoorsaamheid en verantwoordelikheid.
`n Kritiese evaluering van ou ekonomiese modelle asook besinning oor nuwe moontlikhede.
`n Konstante waaksaamheid om nie toe te laat dat die grendeltyd ons verder in ons eie gemaksones sal laat terugtrek nie.
`n Grondhouding van afhanklikheid.