Publieke Getuienis
Skrywe oor korrupsie aan gemeentes
"Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die Woord van die lewe uit te dra." - Filippense 2:14,15

1. Plaaslike gemeentes en korrupsie
Die afgelope tyd het daar, veral na korrupsie wat in die COVID-tyd ontbloot is, ‘n golf van woede en frustrasie rondom korrupsie losgebars. Die vraag is wat gaan ons doen, anders as om mekaar warm te praat?
Hier by die Sentrum vir Publieke Getuienis is ons by verskeie forums betrokke waar ons aan die saak aandag gee. Ons werk ook nou saam met instellings soos Hugenote Kollege (Sentrum vir goeie regering in Afrika) om ons strategie so gefundeerd as moontlik te maak. Een van die dinge waaroor ons konsensus het, is dat dit op nasionale, provinsiale en veral plaaslike vlak aangespreek moet word.
Dit is veral oor die insette wat ons op plaaslike vlak kan lewer, waar ons graag ‘n paar riglyne wil deurgee. Ons hoop dit help.
Indien daar enige vrae is, kontak ons gerus by braam@kaapkerk.co.za.
2. As gelowiges moet ons by onsself begin
‘n Nuwe verbintenis tot karakter en integriteit moet nou geskep word. Ons moet ‘n kudde-immuniteit teen korrupsie vestig. Om korrup te wees is daar meestal twee partye nodig. Korrupte mense moet al meer geïsoleer word. Ons wil gemeenskappe met integriteit bou. Ons doen wat ons doen as ‘n roeping voor God. Ons bid EN ons doen.
3. Ons moet waak teen "corruption fatigue"
Mense is letterlik so moedeloos dat hulle korrupsie as die nuwe normaal sien en net nie meer glo dat iets gedoen kan word nie. Ons moet dit met konkrete aksies bestry.
4. Die "Hoekom"-vraag
Ons moet vir onsself kan verduidelik waarom ons korrupsie wil beveg. Daar is baie redes, maar ten diepste gaan dit vir ons as geloofsgemeenskappe daaroor dat die samelewing en mense bitter seergemaak word. Mense ly fisies as gevolg van korrupsie!
Geloofsleiers het ‘n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om op te staan. Dit is deel van ons roeping.
Onthou dat die prys wat ons betaal nie net veroorsaak word deur geld wat “gesteel” word nie, maar ook deur opgeblase “wettige” kontrakte waarvoor daar hopeloos te veel betaal word - ook op plaaslike vlak.
5. Ons moet met goeie data begin
Wat is die volgende stap? Weet ons hoe munisipale begrotings lyk? Kan ons iemand kry om ons te help om dit aan te vra en onder die vergrootglas te plaas? Ons is oortuig dat as ons lidmate nader, en kundiges kry, gaan hulle ook met nuwe oë na die gemeente kyk! Alles moet onder die vergrootglas geplaas word: salarisse, kontrakte, uitsette ensovoorts.
Ons wil dinge deursigtig maak en bekend maak! Plaaslike owerhede moet weet dat iemand hul dophou.
6. Betrokkenheid
Dit is belangrik om die sakesektor, sakekamer, plaaslike media en/of sosiale media betrokke te kry, maar dalk ook nie-regeringsorganisasies wat sukkel om te oorleef. Die dominee moet nie die geveg alleen veg nie!
Dit is belangrik dat ons nie net VEG nie. Dit is ook belangrik om verhoudinge met die plaaslike regering te bou. Onbekend maak onbemind. Ons kan ook positief beïnvloed.
7. Tel die telefoon op!
En begin gesels. Kontak ons en vra as ons moet help om iets konkreet in jou omgewing op die been te bring. Ons werk as sentrum reeds saam met die Western Cape Ecumenical Network, die WPRK en Hugenote Kollege om ook ‘n breër gefundeerde strategie daar te stel.
Stuur 'n e-pos aan braam@kaapkerk.co.za of skakel Braam Hanekom by 083 302 8639.
8. Bevorder integriteit om korrupsie te beveg
Die Sentrum vir goeie regering in Afrika het reeds die volgende voorberei:
HOEKOM wil ons integriteit bevorder en korrupsie beveg?Ons glo integriteit skep waardigheid. Ons glo korrupsie maak dood en vernietig.
HOE wil ons integriteit bevorder en korrupsie beveg? Integriteit daag korrupsie uit. Integriteit is eerlikheid met sterk morele en etiese beginsels.
WAARMEE wil ons integriteit bevorder en korrupsie beveg? Waarnatoe met integriteit?
Ons wil bewustheid skep van die bestaande werklikheid, keuses maak en vertroue bou.
BEWUSTHEID van die waarde van integriteit (eerlikheid met sterk morele en etiese waardes).
BEWUSTHEID van die vernietigende resultate van korrupsie en toksiese praktyke.
KEUSES word op grond van hierdie bewustheid gemaak.
VERTROUE is die resultaat van beter keuses.
9. Ter afsluiting
Die Goue Sirkel begin met HOEKOM en werk van binne na buite.
“People don’t buy what you do; they buy why you do it.” – Simon Sinek.
“Whoever has a why to live can bear almost any how.” – Nietzsche Thuli Madonsela het gesê: “I believe such leaders… live out uncompromisingly and with integrity their values, regardless of the persons, institutions and circumstances involved. They do the right things for the right reasons for the right outcomes.” Sluit aan by die Integritas-beweging en klik hier om die prospektus te lees.