Search
  • Centre for Public Witness

Oor maskers en menswees

Braam Hanekom


Dit lyk of daar 'n groeiende konsensus onder medici is oor die dra van gesigmaskers. Jy beskerm daarmee nie noodwendig jouself nie, maar wel moontlik ander. Jy moet egter die masker reg gebruik en gereeld was. Daarby moet jy nie maskers dra wat moontlik deur gesondheidswerkers gebruik sou kon word nie. Daar word bespiegel oor die moontlikheid dat wanneer die inperking gedeeltelik opgehef word, maskers, soos in Tsjeggo-Slowakye, verpligtend sal wees.


Ek moet sê, dit is nogal ‘n vreemde, amper onwerklike, ervaring om mense so met maskers op straat te sien. Tog is maskers niks nuuts nie. Dit is deur eeue op verskillende maniere gebruik. Van oorloë tot partytjies. Van die kunste tot in operasiesale. Wat maskers wel doen, is om die identiteit van die draer ten minste gedeeltelik te verberg. Die bekende Zorro en Phantom of the Opera is hier goeie voorbeelde. Daar is `n fassinerende, misterieuse kant aan maskers wat mense kan aantrek.


Daar het egter oor tyd ook ‘n ander gedagte ontstaan - ons almal dra maskers, sonder dat ons dit fisies dra. Daar word ‘n staaltjie vertel dat Sokrates jare gelede een aand met ‘n lamp die stad ingevaar het. Hy het dan van persoon tot persoon gestap, die lig naby aan hul gesig gebring en dan, terwyl hy sy kop geskud het, uitgeroep: Ek soek ‘n mens, maar al wat ek sien is maskers!

Os Guinness het reeds in 1973 in sy boek, The Dust of Death, kritiek gelewer op ‘n samelewing wat op soek was na ekstreme humanisme en utopie. Hy het dit in werklikheid die “ontkleedans van humanisme" genoem, `n proses wat die mens nie meer menslik gelaat het nie, maar “naak” en sonder ‘n toekoms. Die groeiende hooploosheid wat ons onder die jeug sien, onderstreep dit. Wat Guinness in 1973 teen gewaarsku het, het in baie opsigte waar geword: `n identiteitslose, toekomslose, hooplose en onmenswaardige wêreld.


Op `n vreemde manier sien ons die kulminasie hiervan in COVID-19. Maskers, wat lank vir kuns en pret bedoel was, het nou ‘n krampagtige poging geword om ons toekoms te red. Die pad van individualisme, waarop ons reeds vir so lank was, het ‘n kulminasie gevind in isolasie en sosiale afstand.


Waar laat dit ons? Die onverwagse neweproduk van Covid-19 is dat ons geforseer is om veel dieper na te dink oor feitlik alles. Ook oor wie ons is en vir mekaar moet wees. Vir my is die sleutelwoord: egtheid. Jy sien, ons kan sonder maskers rondloop en steeds maskers dra. Ons kan egter ook fisies maskers dra en meer oop vir mekaar wees as wat ons voorheen was.

Daar bly iets kosbaars wat ons steeds met mekaar kan verbind. Ons oë. Ons onderskat dit. Mag ons met ‘n liefdevolle lag en ‘n deernisvolle kyk in ons oë na mekaar bly kyk. Juis in hierdie gemaskerde dae.

25 views0 comments

Recent Posts

See All