Publieke Getuienis
Ons het 'n kudde-immuniteit teen korrupsie nodig
Braam Hanekom
Ons kom ‘n lang pad met korrupsie. Te lank. Die afgelope weke het korrupte COVID-19 tenders ons egter ‘n versadigingspunt laat bereik. Altans, so hoop ons. Jare gelede het ek voor ‘n regeringsgebou in Nairobi gestaan en toe die volgende bord raakgesien: You are now entering a corruption free zone. Ek het dit amusant gevind. Vandag nie meer nie. Tussen al die ontstellende berigte oor korrupsie spook twee vrae by my. Waar kom die virus vandaan? En hoe kan dit gekeer word?

Reeds in die 16e eeu het ‘n Italianer met die naam Niccolo Machiavelli, die wêreld laat regop sit met sy nou bekende boek, The Prince. Tot vandag toe is mense nie heeltemal seker of hy ‘n bepaalde politieke orde probeer voorstaan het of net beskryf het nie. Hoe dit ookal sy, die prentjie wat geteken was het nie goed afgegaan nie. Naas sentrale beheer en burokarsie, wou dit voorkom of hy sinies was oor die Skrif, Plato en karakter. Terselfdertyd is sukses en effektiwiteit gesien as groot deugde. Om te jok was eintlik nie so sleg nie, en baie het groot sukses daarmee behaal, aldus Machiavelli.
Die term, “Machiavelliaanse misbruik van mag” is vandag goed bekend. Dit word algemeen aanvaar dat mag korrupteer en absolute mag dikwels grootskaalse korrupsie tot gevolg het. Die gebrek aan ‘n moontlikheid tot aanspreeklikheid en vervolging word wêreldwyd as ‘n verdere oorsaak aangevoer.
Regoor die wêreld het korrupsie nog ‘n pandemie geword met Koning Juan Carlos van Spanje wat onlangs die pad gevat het na hy vermoedelik R2 miljard se omkoopgeld ontvang het. Somalië, Noord-Korea, Myanmar en Afghanistan word as van die mees korrupte lande in die wêreld beskou, maar dit neem beslis nie die naarheid op jou maag weg as jy na Suid-Afrika kyk nie.
So waar lê die oplossing? Enige iets wat sistemies en endemies geword het, word nie maklik uitgeroei nie. Dit is al meermale gesê, die vervolgingsgesag moet nou sy werk begin doen. Ons is dankbaar oor nuwe wetgewing wat vervolging moontlik maak voor die Zondo-kommissie sy werk heeltemal afgehandel het.
Die SA Raad van Kerke se sterk verklaring oor korrupsie word verwelkom. Wat ons nou nodig het, is ‘n breë beweging van geloofsleiers en gemeenskappe wat hande vat en onweerstaanbare druk op elke regeringsvlak begin plaas. Gemeentes sal die begrotings van plaaslike owerhede moet aanvra en met die kundige kapasiteit wat bestaan, selfs sogenaamde “wettige” opgeblaasde transaksies openbaar. Ons betaal tans ‘n reuse, onnodige, verborge belasting.
Intussen bly Paulus se woorde aan die Filippense steeds toepaslik: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense… ligdraers in die wêreld.”
Elkeen van ons, sal ons eie karakter moet evalueer. As ons nie ‘n kudde-immuniteit teen korrupsie ontwikkel nie, gaan ons siek bly.