Publieke Getuienis
'n Halwe kerk?
Braam Hanekom

Die COVID-19-pandemie het baie uitdagings aan ons almal kom stel. Die kerk is nie gespaar nie. Laat ek egter eers dit sê. Gelukkig hou Christus self sy kerk in stand, oor alle eeue. Ons hoef dus nie paniekerig te raak nie, maar dit beteken nie dat ons nie moet ophou dink nie.
Laat ek nou my probleem verduidelik. Na die grendeltyd begin het, het gemeentes verwoed begin om aanlyn kerk te hou. Dit het onder omstandighede goed gewerk en verrassende nuwe moontlikhede vir die kerk geopen. Tog is daar beslis wesenlike dele van kerkwees wat nie aangespreek word nie.
My verstaan van kerkwees, wat terloops van my kweekskooldae by my ingedril is, is dat daar ten minste vier basiese komponente van kerkwees is, naamlilk ‘n plek waar:
· Die evangelie verkondig word (kerugma)
· Diens gelewer word (diakonia)
· Mense in gemeenskap saamkom (koinonia)
· Aanbidding plaasvind, ook in lofsang (leitourgia)
Die probleem is dat ons tans ‘n bietjie soos ‘n viersilinder motor is wat slegs op twee silinders hardloop. Ons doen goed met YouTube preke (kerugma) en lewer baie mooi diens (diakonia). Die vraag is egter wat gebeur met ons saamwees en samesyn (koinonia) en veral ons aanbidding en lofsang (leitourgia).
Dit is veral oor laasgenoemde wat ek begin dink het. Dit bly ‘n moeilike een. Selfs in ons maksimum-50-eredienste mag ons nie sing nie. Die vraag is dus of daar nie nuwe moontlikhede ontwikkel moet word waar mense tuis in ‘n vorm van lofprysing kan deel nie. Die minimum sou wees om toegang tot die materiaal van lofprysingsgroepe en kore te kry om ons YouTube aanbiedings te verryk.
Dit is baie belangrik dat ons sal poog om nie net ons liggame gesond te hou nie, maar ook ons koppe. Musiek en aanbidding kan ongelooflik baie hiermee help.
Dus, al kan ons nie nou saamsing in die kerk nie, laat ons ons middele gebruik om na goeie musiek en selfs aanbiddingsmusiek te luister. Ek smag na die dag waar ons waarlik weer saam sal kan sing.