top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

'n Gebed vir Suid-Afrika te midde COVID-19


Almagtige God en hemelse Vader

Ons aanbid U as Vader, Seun en Heilige Gees

In hierdie tyd van beproewing nader ons U met danksegging en diepe verootmoediging

Dankie vir die liefdevolle en barmhartige God wat U is

Dankie dat ons U mag ken

Dankie vir U onverdiende goedheid en guns oor soveel jare

Ons gee aan U al die eer


In hierdie krisisuur buig ons in diepe afhanklikheid en nederigheid voor U

Here ons glo dat ons in U hand is en dat U finale rus en kalmte kan bring

Ons verootmoedig ons voor U

Ons bely dat ons jare lank te roekeloos gelewe het en dikwels te min omgegee het

Ons bely dat ons onverskillig gelewe het teenoor U en ander en U skepping

Steeds pleit ons om U barmhartigheid en genade

Ons wil natuurlik intree vir ons vriende, familie en hulle naby aan ons

Maar ons wil veral kom bid vir die weerloses, die blootgesteldes, die armes.

Ons wil bid vir hulle wat fisies en emosioneel sukkel. Vir die angstiges en moedeloses.

Ons bid vir ons bejaardes en kinders

Ons bid vir hulle wat ons moet lei en besluite neem in hierdie dae

Here wees ons genadig

Op U tyd en U manier

U weet wat ons nodig het

Ons glo dat alles vir ons ten goede sal meewerk…

Ons glo dat niks ons van U liefde kan skei nie

Here ek bid dat U rus en vrede sal bly by almal wat deel in hierdie gebed.

Here, toe ek met baie onrus in my binneste sit, het U vertroosting my tot rus gebring (Psalm 94:19)

Amen

bottom of page