Search
  • Centre for Public Witness

Musiek en ons stryd teen onbeskaafdheid

Braam Hanekom


Met erkenning aan die Burger

Daar sal meningsverskille bestaan oor hoe ‘n mens ‘n beskawing definieer. Tog sal jy deur die eeue ‘n breë konsensus vind oor hoe onbeskaafde optrede lyk. Ons nuus is tans deurspek daarvan. Geweld teen vrouens en kinders, geweld in ons townships en die onverdedigbare plaasmoorde is maar enkele voorbeelde.


Die alkoholverbod het die stryd tussen beskaafdheid en onbeskaafdheid kom onderstreep. ‘n Dramatiese ingrype, met verrykende gevolge, moes gemaak word om die onbeskaafde gebruik van alkohol aan bande te lê. In so ‘n tyd spartel die kerk om ‘n nuwe wyse van bestaan te vind. Nou wat op aarde het dit alles met mekaar te doen?


Van jongs af het ek geleer dat die kerk ten minste met vier belangrike dinge moet besig wees. Dit is die verkondiging van die evangelie, diens aan die wêreld in nood, die bou van gemeenskap en dalk die belangrikste van almal, die lof en verheerliking van God. Tans improviseer die kerk met aanlyn dienste om die evangelie te verkondig en is intens betrokke by die verspreiding van kos en meer. Met die laaste twee sake word daar gesukkel. Hoe bou jy nou ware gemeenskap in ‘n tyd van afsondering? Zoom-vergaderings doen dit net tot op ‘n punt. Maar erger nog. In die lof aan God speel sang en musiek ‘n kardinale rol. Tans mag daar om verstaanbare redes nie gesing word nie.


Die wonder van die doksologie (die lof aan God) is dat daar ook iets met die siel en die gees van die aanbidder gebeur. Natuurlik kan ons privaat aanbid, maar deur die eeue het aanbidding, soos reeds gesê, sy hoogtepunt in musiek en sang gevind. Musiek is en was nog altyd een van ons kosbaarste geskenke en boustene van ‘n beskawing. Ja, ons kan danksy die tegnologie, op wonderlike maniere na musiek luister, maar daar is dinge wat ek in die dae ontsaglik mis.


Ek mis `n uitvoering van die Universiteitskoor in die Endler, Amanda Strydom of Elvis Blue by ‘n kunstefees, of selfs U2 saam met my kinders in die Kaapstad stadion. Ek mis die samesang in die kerk. Ek mis die orrel wat speel, terwyl ek my gedagtes voor God probeer orden en veel meer. Tydens die inperking moes ons begrafnis hou. Toe ek die orrelis bel en hoor of hy sal speel, hoor ek die opgewondenheid in sy stem: “Natuurlik, ai ek mis my orrel en mense so!”

`n Paar jaar gelede kry ek terugvoering van ‘n projek in die Oos-Kaap waar arm kinders geleer word om klassieke musiekinstrumente te speel. Die woorde van een van die kinders sal ek nie vergeet nie. “When I play the oboe, it quiets my mind...”


Mag ons in dié tyd nie ons musiek verloor nie. Dit speel ‘n onmisbare rol in enige beskawing wat wil bly voortbestaan.


#music #instruments #church

2 views

Sentrum vir Publieke Getuienis | Tel. 021 957 7202  I  Fax: 086 531 9287  I  spg@kaapkerk.co.za | Bellville, Cape Town

Religious Centre, church and charity. © 2020 Sentrum vir Publieke Getuienis