Search
  • Centre for Public Witness

Moet kerke oop of toe wees?

'n Gevallestudie van kompleksiteit

Mense verskil oor baie dinge. Hierdie verskille worstel dikwels met kompleksiteit. Een so ‘n verskil die afgelope tyd handel oor wanneer kerke weer kan begin eredienste hou. ‘n Hele aantal organisasies het die regering hieroor hof toe geneem. Ook die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ‘n versoek aan die president gerig dat gewone eredienste weer met ‘n maksimum van 50 mense mag hervat. Oor hierdie saak het ek nog altyd gevoel dat die kerk uiters versigtig moet wees en te midde van onsekerheid eers moet wag.


Onlangs het lede van die Menseregtekommissie met lede van een van die ekumeniese liggame waarvan ek deel is (Western Cape Ecumenical Network) vergader om die saak te bespreek. Hier is die kompleksiteit van die vraagstuk opnuut onderstreep. Na die gesprek was ek weereens bewus van hoe township- en middelkas wêrelde van mekaar verskil. Binne die townships speel kerke ‘n baie belangrike sosiaal-maatskaplike rol en verleen vir baie, as instelling, ‘n mate van stabiliteit.


“Bring vir ons die wetenskaplike data dat eredienste, waar die protokol toegepas word, superverspreiders is,” het sommige gevra (ja, ons weet van die groot konferensie in Bloemfontein waar mense aangesteek het). Die vraag wat my egter laat regop sit het, was: “Het julle middelklas mense enige werklike benul van wat in die townships aangaan? Soms voel dit vir ons of daar tans niks toe is nie, behalwe die kerke. Ons is om verskeie redes banger vir die virus as julle. Ons lewe is egter in ‘n konstante stryd om oorlewing, waar ons voortdurend risiko’s teen mekaar moet opweeg. Hoor ons asseblief as ons sê, maak oop ons kerke.”

Waar sou die oplossing en antwoord dan lê? ‘n Ander opmerking wat in die gesprek gemaak is, is dat daar ‘n groeiende kloof tussen die regering en die burgerlike samelewing ontstaan het. Een rede is die regering se onvermoë om meer genuanseerd met “commands” van die “Command Council” om te gaan. `n Kerkraad op Garies word oor dieselfde kam geskeer as ‘n erediens in ‘n hoë-digtheid, hoë-risiko area. So ook `n paar branderplankryers en die deelnemers aan ‘n reusepadwedloop. `n Keurige restaurant op ‘n wynplaas val in dieselfde kategorie as a ‘n kroeg in ‘n hoëdigtheid brandpunt. Die voorbeelde gaan aan en aan. ‘n Meer genuanseerde benadering kan ons net help.


Intussen weet ons dat eredienste met vyftig mense vir baie kerke allesbehalwe ‘n terugkeer na normaliteit is. Ons is in die middel van ‘n lang winter. Daar is egter ‘n bemoedigende woord vir kerke. Kerke hoef nie bang te wees dat hulle sal sterf as hulle vir twee jaar, of self langer, “toegemaak” word nie. In Oosbloklande en so ook ons buurland Mosambiek is gelowiges vir jare verbied om bymekaar te kom. Die kerk het groter en sterker daaruit gekom. ‘n Kerk wat sterf as dit onder druk kom, moet vra of dit ooit ‘n ware kerk was. Inderdaad hou Christus self Sy kerk in stand.

37 views0 comments

Recent Posts

See All

Sentrum vir Publieke Getuienis | Tel. 021 957 7202  I  Fax: 086 531 9287  I  spg@kaapkerk.co.za | Bellville, Cape Town

Religious Centre, church and charity. © 2020 Sentrum vir Publieke Getuienis