top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Meerderwaardigheid en minderwaardigheid is albei gevaarlik

Braam Hanekom | Godsdiens Aktueel



Meerderwaardigheid en minderwaardigheid is twee kante van dieselfde slegte muntstuk wat groot skade in gemeenskappe kan aanrig.


Meerderwaardigheid, of hoogmoed soos die Bybel dit noem, is een van daardie dinge waaroor die Skrif van die mees veroordelende uitspake maak. Dit kry gestalte in trots, disrespek, verwronge vorme van manlikheid (patriargie), rassisme en verskillende vorme van geweld. Dit knou, maak seer en laat diep letsels. Dit wys verder gesig in intellektuele meerderwaardigheid, teologiese- en godsdienstige meerderwaardigheid en veral ook klassemeerderwaardigheid.


Die groot ellende met meerderwaardigheid is dat mense wat dit het, dikwels nie eers besef dat hulle so oorkom nie. Meerderwaardigheid en arrogansie is ’n gevaarlike tweeling. Hoe het Thomas Faranda gesê? “Arrogansie is die resultaat van ‘n ongesonde ego wat eintlik dringende herstelwerk nodig het.” Dit is ongelukkig waar, maar die hartseer is dat meerderwaardigheid en arrogansie dikwels die resultaat van onkunde is. Werklike wysheid en kennis sal jou altyd na groter nederigheid lei.


Die ander kant van die muntstuk is minderwaardigheid. Dit kan ewe gevaarlike situasies skep. Dit laat toe dat jou vrese heers oor jou geloof. Dit laat jou manipuleer omdat jy voel dat jy nie uit eie reg dit ooit sal maak nie. Minderwaardige mense sal ander aftrek en verkleineer om hul tot op die vlak te bring waar hul gemaklik voel. Hulle sal ten alle koste vashou aan magsposisies omdat hulle in die posisie veiliger voel. Minderwaardige mense begin dikwels aan ‘n slagoffermentaliteit lei, wat sondaars soek en blameer vir hul eie “ellendige” situasie.


Minderwaardigheid kan die resultaat van jare se afknou wees Dit laat mense egter maklik perspektief verloor. Die hartseer gevolg is dat hul dan self deel van `n afbrekende en destruktiewe kultuur word.


Gelowiges wat hul diepste identiteit in Jesus Christus vind, word nie volkome gevrywaar van meerderwaardigheid of minderwaardigheid nie. Ons is steeds mense. Binne-in jou groei daar egter iets waarteen jy jouself voortdurend kan meet. Iets groter as die mense en die wêreld om jou wat jou so maklik van balans stamp.


Dit spoor ons enersyds aan tot nederigheid en dienslewering. Dit laat jou met respek luister en maklik kniel en buig voor diegende wat in die oë van die wêreld nie dieselfde status as jy het nie. Die kruis van Christus herinner ons voortdurend daaraan.


Terselfdertyd vul die liefde van God ons met ‘n innerlike krag wat ons met oortuiging laat opstaan teen ‘n wêreld vol disrespek, wat ons minderwaardig wil laat voel. Ons identiteit as volgelinge van Christus laat ons besef en ervaar dat God ons liefhet. Dit laat ons groei in nederigheid en innerlike krag.


Hierdie week vier baie gemeentes regoor die land Pinksterfees. Mag ons die oorvloedige teenwoordigheid van die Heilige Gees beleef, wat ons nederig én sterk maak. Suid-Afrika het in hierdie uitdagende tye baie hoopvolle, nederige en innerlike sterk mense nodig.

bottom of page