Publieke Getuienis
Gesprek met gemeenskapleiers in Ladismith
Braam Hanekom, namens die Sentrum vir Publieke Getuienis
Ons hartlike dank aan almal wat die vergadering bygewoon het en ook vir ds Francois Naudé vir sy moeite met die reëlings. Na die aand se openlike, eerlike en hartlike gesprekke deel ek graag die volgende waarnemings en aanbevelings met u.

Waarnemings
"Ladismith is OK.”
Mense groet mekaar vriendelik en daar is ‘n weg tot medebestaan gevind. Maar, dit beteken nie dat daar nie steeds uitdagings is nie. Hieronder is die volgende uitdagings:
· Onaanvaarbare vlakke van armoede en ongelykheid.
· Die hoë uitvalsyfer van skoolkinders.
· Gebrekkige behuising wat die menswaardigheid van mense aantas en die vesel van die breë gemeenskap bedreig. Die werklikheid is egter die volgende: Die staat se geld is op. Nuwe projekte is ‘n onwaarskynlikheid. Indien die landbou verder herstel met goeie reën in die jare wat kom, kan ons ‘n toeloop na Ladismith verwag.
· Persepsies oor die Kannaland Munisipaliteit is ongelukkig negatief. Binne en buite die dorp. Ter wille van sosiale kohesie moet dit herstel word.
· Daar is ook nog hopeloos te veel vooroordeel, wantroue en verdeeldheid op die dorp. Dit is tussen gemeenskappe en ook binne gemeenskappe.
· Apatie is ‘n gevaarlike virus wat mense verlam tot daar ‘n krisis kom...
Aanbevelings
· Die kerke sal hard moet werk aan onderlinge eenheid en die herstel van die fraternal.
· Die pad na ‘n nuwe vlak van sosiale kohesie op Ladismith loop nie OM die plaaslike regering nie, maar moet in vennootskap met die plaaslike regering geskied.
· Dit word sterk aanbeveel dat die kerkleiers ‘n vergadering met die plaaslike regering se senior bestuur sal aanvra om ‘n gesamentlike toekoms te bespreek. Nie later nie as vroeg 2021.
· Die informele forum wat op die 25ste November vergader het, moet weer vergader.
· Verdere sake op die agenda kan die volgende insluit: - Die luister na mekaar se stories en drome.
- Daar moet na ALMAL se verwagtinge en wense geluister word.
- Die daarstel van ‘n veilige leersentrum vir kinders om na skool, onder mentorskap, in stilte (ook oor naweke) te kan studeer. Hulle moet ook daar internet toegang hê.
- Gestruktureerde programme wat op die jeug se behoeftes en ontwikkeling gerig is.
- Die ontwikkeling van die leierskapspotensiaal in gemeenskappe.
- Nuwe behuisingskonsepte.
- Pro-aktiewe stappe om netwerke te vestig met die oog op die hantering van die uitdagings in die gemeenskap.
- Skoonmaakprojekte (Calitzdorp).
- Landbouprojekte (Zoar en Amalienstein).