Publieke Getuienis
Geloof, hoop en liefde wat nie gemeet kan word nie
Deur Braam Hanekom.
Met erkenning ontvang van Godsdiens Aktueel.

Geloof, hoop en liefde staan as begrippe sentraal in die Christelike geloofstradisie. Dit kan nie met een of ander fisiese instrument gemeet word nie en daar bestaan ook nie numeriese mate om dit te weeg nie. Tog is dit onmoontlik om die bestaan daarvan te ontken. Dit is geanker in gemeenskap, maar dra ook ‘n baie intieme, persoonlike karakter. Dit is nie verkeerd om soms daaroor te debatteer nie, maar soms moet jy net daaroor getuig.
Vra vir diep denkende gelowiges en hulle sal vir jou sê dat hul geloof ‘n koherente antwoord op die soeke na sin en betekenis in die lewe gee. Een so ‘n antwoord het ek gevind in die boek van Professor Hennie Rossouw, Die sin van die lewe. (Tafelberg 1981) Hy het dit na die tragiese dood van sy seun, Hans, geskryf. Ek is oortuig dat hierdie soeke na sin en betekenis diep in die psige van die mens vasgelê is. Wanneer jy dié soeke verloor, gaan daar ‘n stuk van jou menswees dood.
Geloof het nog altyd vir my wêrelde bymekaar gebring wat op geen ander manier moontlik is nie. Ek dink nie ons sal ooit finale wetenskaplike bewyse vir die bestaan van God vind nie, maar dan weet ons ook dat die afwesigheid van wetenskaplike bewyse deur die eeue nie genoegsame bewys was dat sekere dinge nié bestaan nie. Prof Hennie het my immers jare terug geleer van die epistemologie of kennisleer en dat die saak ‘n bietjie meer kompleks is as wat ons altyd wil erken.
Ek glo dat my geloof ‘n genadegawe is wat op verskeie maniere in my gegroei het. Dit maak nie van my ‘n beter mens as ander nie, maar dit vul my met dankbaarheid en vergenoegdheid.
Om ‘n oordeel te fel oor die egtheid van die liefde wat in ander leef of nie, is gevaarlik. Dit geld ook vir geloof. Liefde kan baie vorme aanneem, so ook geloof. Dit is ‘n singewende oortuiging wat in my groei en my met groter vrede as vrees vul, groter rus as onrus, meer betekenis as sinloosheid en meer hoop as wanhoop. My geloof is ‘n elke dag se ervaring. Dit beteken nie dat ek nie soms twyfel nie. Genade maak egter dat geloof telkens my twyfel oorwin.
`n Aanhaling uit Rossouw se boek oor die Christelike hoop bly in die dae in my kop draai:
“Die Christelike hoop is ‘n aktiverende hoop. Dit bring die gewete in beweging. Die Christelike hoop laat hom nie onderkry deur die dooddoenerargument dat die mens hom in sy keuses binne die grense van die “moontlike” en die “haalbare” moet hou nie. Dit is strykdeur besig om die gewete aan te por sodat die grense van die moontlike steeds verder uitgeskuif kan word.”
(Die Sin van die Lewe, p. 92)