Publieke Getuienis
Gebed vir Erfenisdag - 24 September 2020

Liewe Here,
Ons vier op 24 September Erfenisdag, maar ons wil bely dat sommige van ons soms sukkel om dit te vier.
Ons erfenis is ‘n mengsel van mooi en hartseer, van goed en kwaad…
Daarom wil ons dankie sê en bely.
Ons gaan braai en probeer dans.
Ons gaan onthou en nadink…
Maar ons moét veral kom dankie sê.
Dankie vir die baie mooi wat in die erfenis van al ons mense opgesluit lê. Dankie dat U ons onderhou het.
Dankie vir een van die mooiste lande op die planeet en al maak ons dit soms so seer, vernuwe U dit steeds. Hierdie lente getuig opnuut daarvan. Dankie vir elke taal en kultuur, elke stukkie sang en musiek. Die diversiteit is ons rykdom!
Dankie dat U al die mense van hierdie pragtige land hierheen gebring het en die land aan almal geskenk het.
Help ons om die mooi in ons erfenis raak te sien en te waardeer - elke stukkie mooi wat elke groep bring en wat gevier kan word. Help ons om die rykdom van ons erfenis ook as `n gawe uit U hand te sien. Help ons om met dankbare en waarderende oë te kyk.
Vader, gee ons ‘n nuwe trots. Skep ‘n nuwe vertroue en hoop. Skep nuwe liefde en geloof in ons.
Na alles, mag ons op die dag ook die grootste van alle erfenisse vier. Die erfenis wat ons in Jesus Christus ontvang het.
Dankie dat U die gebrokenheid van ons menslike identiteit kom heelmaak en volmaak het.
Dankie dat ons op hierdie dag inderdaad so baie het om te vier.
Aan U al die eer.
Amen
Nkosi Sikelel’ iAfrika