top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Ekumeniese liggaam bespreek moontlik hulp aan en optrede in Brackenfell

Die Western Cape Ecumenical Network, ‘n ekumeniese liggaam wat uit verteenwoordigers van ongeveer 30 kerke en kerklike organisasies in die Wes-Kaap bestaan, het gister die situasie in Brackenfell op hul sosiale media-platform bespreek. Braam Hanekom direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis het ook persoonlik die situasie met ‘n paar prominente rolspelers bespreek en gee hier sy indrukke en mening, na afloop van die gesprekke oor die situasie.

1. Ons almal het ‘n verantwoordelikheid om niks nou te doen wat verdere konflik en geweld kan veroorsaak nie. Ons het die moontlikheid bespreek om as kerkleiers Vrydag, 20 November, by die EFF se voorgenome betoging teenwoordig te wees, maar besef dat ons blote teenwoordigheid, in ‘n emosioneel gelaaide konteks, vir ‘n verskeidenheid van interpretasies vatbaar kan wees.


2. Daar is wel gereël met die MRK (Chris Nissen) dat daar MRK-monitors en enkele lede van die Sentrum vir Publieke Getuienis Taakspan, as monitors, teenwoordig sal wees.


3. My gevoel is dat ons hier moet doen wat die Russe met Napoleon gedoen het - staan terug tot die geraas bedaar. Werk dan konstruktief vorentoe.


4. Daar is konsensus binne die WCEN dat die reg om te protesteer én die reg van brose kinders, wat alreeds getraumatiseer is, ernstig geneem moet word.


5. Daar is `n sterk gevoel dat Vrydag aan die polisie en moniteerders oorgelaat moet word.


6. Terselfdertyd is daar sterk ondersteuning vir ‘n deursigtige proses wat na Vrydag gesprekke met die leerders behoort te voer om regtig na hulle te luister. Daar word tans te veel narratiewe oor en namens hulle verkondig.


7. Die skool word ook sterk aangemoedig om ‘n voorgenome proses in diversiteitsopleiding met erns aan te pak. Hulp is ook in die verband aangebied.


8. Intussen word die reg om te protesteer erken, maar enige politieke party wat hierdie situasie vir politieke gewin of propaganda wil uitbuit, word ten sterkste veroordeel.


9. Verder gee ons ons volle ondersteuning aan die Ring van Brackenfell en die Fraternal. Niemand kan die situasie alleen hanteer nie.


10. Ons dink besonder aan ons kollega dr. Guillaume Smit, voorsitter van die SBH, wat onder groot druk `n reuserol speel om versoening en kalmte te bewerkstellig.


11. Ons bid ernstig vir Brackenfell en vra ook u gebede vir die situasie.


12. Die situasie het opnuut kom onderstreep dat sosiale kohesie nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie. Ons verhoudinge is meer broos as wat ons besef. Daarom vergader die SPG taakspan ook vandag om ondermeer ‘n hulpmiddel aan gemeetes te bespreek wat met die bou van sosiale kohesie kan help. Die eerste stukke sal eersdaags op pad wees.


bottom of page