top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Die wêreld verlang na ware leierskap

Met erkenning aan Godsdiens Aktueel (Beeld en die Burger)

Die Amerikaanse presidentsverkiesing was besig om in `n sirkus te ontaard, toe die koronavirus vir `n wyle die spektakel tot orde geroep het. `n Mens wonder egter onwillekeurig waarheen Amerika en die wêreld op pad is...


Dit wil voorkom asof ons onsself in ‘n leierskapkrisis bevind. Feitlik regoor die wêreld vind ons leierskap wat jou keel laat toetrek. Ek moet egter kwalifiseer. Daardie besonderse vrou, Angela Merkel, bly vir my ‘n uitsondering. Laat ek ook dit byvoeg. Daar is diegene wat konstant neerhalend oor ons eie president praat. Kyk egter ‘n bietjie om jou rond. Dit is inderdaad ‘n tyd om veel meer vir ons leiers te bid.

Die vraag is al baie gevra hoe ons hier beland het. Die eenvoudigste antwoord is om te sê dat leiers nie sommer uit die lug val nie, maar meestal die produk van ‘n samelewing is. Hoe is dit moontlik dat Amerika destyds, met slegs ‘n paar miljoen inwoners, die Adamse, Lincolns en Jeffersons van die wêreld kon produseer en vandag met meer as 300 miljoen inwoners spartel om twee behoorlike presidentskandidate te kry?

Dalk moet ons erken dat mag, geld, die beheptheid met onsself en verwronge waardesisteme, ‘n groter houvas op ons almal gekry het as wat ons sal wil erken. Ou-wêreldse diensbaarheid, nederigheid en respek vir mekaar en opponente, moes plek maak vir verbale aanvalle wat dikwels met leuens gepaard gaan. Ons sien dit ook in ons eie land.

Terwyl leierskapkursusse ons kan help en vorm, word ware leierskap nie in leierskapkursusse gekweek nie. Ek ondersteun die teorie dat ware leierskap in waardegedrewe samelewings gevorm word, om kombuis- en etenstafels, in ouerhuise. Opvoeding is net so belangrik soos onderrig. Leierskap is dikwels die resultaat van swaarkry en mense wat verstaan wat dit beteken om opofferings te maak.

Christus het op ‘n keer baie spesifiek met sy dissipels oor leierskap gepraat. Hy het dit egter teenoor wêreldse leierskap geplaas en twee deugde uitgesonder: nederigheid en diensbaarheid (Luk. 22:26).

Dit beteken nie dat ons nie goed opgeleide, visioenêre, innoverende, dapper en gedissiplineerde leiers nodig het nie. Christus se boodskap was wel dat daar basiese begingsels is, waarsonder al hierdie edele eienskappe ontspoor.

Ons lewe in ‘n tyd van uiterse kompleksiteit, waar ons sien dat angstige, onseker mense al meer soek na reg-of-weg oplossings en antwoorde. Die uiters plofbare situasie wat rondom plaasmoorde ontwikkel het, bevestig dit. Groeiende rassespanning het nuwe uitdagings aan leierskap kom rig. Hoe word daar met wysheid `n nuwe sosiale kohesie en `n nuwe sosiale kontrak geskep? Ons het nou slim én wyse leiers bitter nodig wat dit kan doen. Leiers wat voor God stil word, sal vind dat daar steeds baie stemme deur jou maal. God kan egter ‘n wyse, onderskeidende harmonie in jou skep, wat lig en koers in ‘n donker tyd bring.


#leadership #SouthAfrica #CyrilRamaphosa #ANC #DonaldTrump #listen #context #God #faith #hope

bottom of page