Search
  • Centre for Public Witness

Die Nuwejaar in met COVID-19, maar ook met hoop en verwagting

Die meeste van ons het gehoop dat die COVID-19-pandemie teen hierdie tyd ou nuus sou wees. Heelaas is dit nie die geval nie. Ek hoor iemand sê: Ons leef nou in die 13e maand van 2020. Reg aan die begin van die pandemie het die sinode van Wes-Kaapland se COVID-19 Taakspan vir mekaar gesê dat ons ons waarskynlik moet regmaak vir ’n lang winter. Ons was nie verkeerd nie.


Die vraag is: Hoe bly ons blymoedig voortreis in 2021?


Graag stel ons ’n paar wenke voor.

1. Behou perspektief

Hierdie pandemie is nie die eerste wat die wêreld getref het nie en sal ook nie die laaste wees nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914 - 1918) het 20 miljoen mense gesterf en in die twee jaar daarna nog 20 miljoen gedurende die Groot Griep (ook bekend as die Spaanse Griep). Dit uit ‘n wêreldbevolking van ongeveer 1 miljard. Met COVID-19 het daar reeds byna 2 miljoen mense gesterf. Die getalle sal beslis nog styg, maar dit uit ‘n bevolking van meer as 8 miljard. COVID-19 is baie erg, maar moet in perspektief gesien word. Terselfdertyd, laat ons nie ons oog afhaal van die ander uitdagings (byvoorbeeld bevolkingsaanwas, armoede en die ekologie) nie.

2. Bly versigtig, maar nie bevrees nie

Die kerk behoort ’n voorbeeld te stel in dissipline en hoe om met die virus om te gaan. Terselfdertyd mag angs en vreesagtigheid ons nie oorweldig nie. Dit breek in elk geval net jou immuunsisteem af. Angstigheid gaan niks help nie. Hierdie pandemie skep egter ook unieke geleenthede aan die kerk om juis nou ‘n positiewe en konstruktiewe getuienis te lewer.

3. Fokus op dankaarheid

Dankbaarheid is een van die beste maniere om jou liggaam positief en gesond te hou. Tel jou seëninge. Tel hulle een vir een! Kyk om jou rond. Verlustig jou in die skepping en vind maniere om jou medemens op verantwoordelike wyse te ondersteun.

4. Ontdek die gawes wat hierdie tyd jou bied

COVID-19 bied ook vir ons geskenke aan. Ons was verplig om te stop met sekere dinge, maar dit het vir ons die geleentheid geskep om nuwe dinge te doen of ou dinge wat ons verloor het weer op te neem. Ons hou korter vergaderings, reis minder en kuier minder. Daar is egter meer tyd vir stilte, gebed, nadenke, lees en selfs skryf. Ek glo ons het dit in elk geval nou bitter nodig. Maak tyd vir jou geliefdes, begin ‘n nuwe stokperdjie, bestudeer ‘n Bybelboek of begin ‘n groentetuin. Koop die tyd uit en maak gebruik van elke geleentheid!

5. Hou vas aan die Christelike hoop

Prof. Hennie Rossouw het jare gelede na ’n donker tyd in sy lewe (die afsterwe van sy seun, Hans) soos volg oor die Christelike hoop geskryf. Ek kan dit nie beter stel nie:

Fatalistiese berusting en konformistiese afwagting is vreemd aan die Christelike hoop. Wie dit daartoe herlei, vermink die hoop wat met die belofte van die Evangelie korrespondeer. Die Christelike hoop is ‘n aktiverende hoop. Dit bring die gewete in beweging. Die Christelike hoop is ‘n vindingryke verwagting waardeur daar onderweg vooruit gegryp word op dit wat kom. Die Christelike hoop laat hom nie onderkry deur die dooddoenerargument dat die mens hom in sy keuses binne die grense van die “moontlike” en die “haalbare” moet hou nie. Dit is strykdeur besig om die gewete aan te por sodat die grense van die moontlike steeds verder uitgeskuif kan word. Die indikatief van die belofte dat alles anders sál wees, is vir die Christelike hoop tegelyk ‘n imperatief dat alles ook anders kán wees. (Die Sin van die Lewe, Tafelberg 1988)

35 views0 comments

Recent Posts

See All