Publieke Getuienis
Die kerk moet vernuwe sodat die stad kan vernuwe
Terwyl miljoene mense rou oor die afsterwe van Koningin Elizabeth II én daar diegene is wat nie veel trane stort nie, glo ek dat sy oor sewe dekades een waarheid onderstreep het. Samelewings het stabiele instellings nodig. Ek eer haar vir haar standvastigheid, stabiliteit, geloof en voorbeeld as dienende leier.
Daar word dikwels bespiegel of Suid-Afrika nie dalk ‘n mislukte staat is nie. Wat egter al hoe duideliker word, is dat die meerderheid van ons plaaslike regerings mislukte instellings is. Daar is uitsonderings, maar ‘n mens sou talle bywoorde kon vind om die meerheid plaaslike regerings te beskryf. Woorde soos wanfunksioneel, polities-geïnfekteer, skuldbelaai en onbevoeg, kom by ‘n mens op.
By die Sentrum vir Publieke Getuienis het ons reeds meer as 60 dorpe en stede regoor Suid-Afrika besoek en na gewone mense op voetsoolvlak geluister. Waardevolle lesse is geleer oor hoe gewone mense, vanuit verskillende agtergronde, oor Suid-Afrika dink.
Een kwessie staan uit. Terwyl die grondwet dit duidelik maak dat die burgerlike samelewing aktief insette in plaaslike regerings behoort te lewer, gebeur dit om verskeie redes nie. Daarom word plaaslike regerings ook nie verantwoordbaar gehou vir hul misdrywe nie. Om bloot parallelle sisteme te skep om die dorp regop te hou, soos om self slaggate reg te maak, is nie volhoubaar nie. Ons sal institusionele weë moet vind om plaaslike regerings aanspreeklik te hou.
Waarom die relaas? Jare terug reeds het Johannes Calvyn in Genéve die standpunt gehuldig dat die kerk moet reformeer sodat veral die stad kan verbeter!
Ons dorpe en stede word tans lamgelê deur verdeelde en onstabiele plaaslike regerings. Die sakegemeenskap probeer byvoorbeeld verhoudinge met die raad bou, net om dan agter te kom dat daar na ‘n paar maande ‘n nuwe stadsraad aan bewind is. Wat ons moet verstaan, is dat verdeelde, onstabiele gemeenskappe veel makliker lei tot verdeelde, onstabiele plaaslike regerings. Dit is hier waar die kerk inkom. Ek is oortuig dat die kerk tans self een van die mees verdeelde instellings op aarde is. Op die kleinste dorpe sal jy tientalle kerke aantref. Hoe op dees aarde kan ons as gemeenskappe verwag dat politieke partye moet saamwerk as die kerke dit nie wil doen nie?
Ons is dringend op soek na leierskap wat ‘n groter samebindende visie vir die dorp en die gemeenskap sal ontwikkel en dan geestelike leiers én die gemeenskap daarheen sal saamneem. Die kerk was nog nooit die beste bestuurders nie. Die kerk het wel ‘n rol om te speel as profetiese fasiliteerdes wat verhoudinge tussen burgerlike samelewing, staat en besigheid kan help herstel. Kundiges wat saamwerk, kan dan met die nodige kennis die nodige verskil maak.
Dit gaan tyd en energie van geestelike leiers vra. Dit is egter wonderlik hoeveel nuwe energie daar te vinde is as jy dit buite jou gemeente op die dorpsplein waag.
