top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Die behuisingskruispad na COVID-19

Die krisis skep ‘n nuwe geleentheid.


Een van die groot gevare van COVID-19 is dat dit al ons aandag en fokus so in beslag neem dat ons nie die ander olifante in ons kamer raaksien en daaraan aandag gee nie. Dit kan jou op die ou end onder die voete van die olifante laat beland.


Braam Hanekom het met Quinton Adams gaan gesels en saam sit hulle ‘n paar perspektiewe oor die toekoms van behuising in Suid-Afrika op die tafel.

‘n Hele aantal uitdagings lê vir ons en wag na COVID-19. Gedurende die COVID-19-pandemie het die sosiale foutlyne van die Suid-Afrikaanse gemeenskap dramaties na vore getree en vergroot. Die hongerte, behuisingskrisis, waternood en die geestesgesondheid van mense is maar enkele van die foutlyne wat uitgewys was.


Die pandemie se impak op die geestesgesondheid van ons jongmense word onderskat. Volgens 'n onlangse opname deur die Europese Jeugforum sal die driedubbele aanslag van 'n verlies aan indiensnemings- en onderwysgeleenthede en gekompromitteerde basiese menseregte tydens die pandemie, vir jare jeugdiges en hul geestesgesondheid beïnvloed. In Suid-Afrika is hierdie kwessies selfs meer akuut. Selfs voor die pandemie was die werksvooruitsigte van jong Suid-Afrikaners somber. Die pandemie het hierdie situasie dramaties vererger. Terselfdertyd is die onderrig van skoolkinders en jongvolwassenes so ontwrig, wat, indien drastiese stappe nie gedoen word om die gapings aan te spreek nie, ook vir jare by ons sal wees. Die pandemie het ook kinders en jongmense se regte op veiligheid, behuising en basiese dienste geraak. Hierdie drie faktore beïnvloed almal die geestesgesondheid van die jeug. Vroeë aanduidings is dat daar 'n skerp toename in depressie en angsverwante toestande onder jongmense was. Kinders en jongmense (25 jaar en jonger) maak reeds 45% van Suid-Afrika se bevolking uit. As hulle nie versorg word nie, sal Suid-Afrika se vooruitsigte vir die volgende 20 tot 30 jaar taamlik somber wees.


`n Tweede uitdaging lê op ‘n meer fisiese vlak, naamlik behuising. Suid-Afrika staar ‘n massiewe behuisingstekort in die gesig. Die agterstand groei by die dag terwyl beskikbare befondsing al minder raak.

Artkel 26 van ons Grondwet bepaal dat “almal die reg tot toegang tot voldoende behuising het.” Dit is in wetgewing omskryf wat ook die verskillende verantwoordelikhede van ons verskillende vlakke van regering uitstippel. Die ideaal is dat elke huis 40m² groot moet wees met ten minste twee kamers en ‘n aparte badkamer, toilet, stort, wasbak en ‘n gekombineerde kombuis/sitkamer moet hê.


Dit klink na ‘n pragtige ideaal en erkenning moet gegee word aan die behuising wat wel sedert 1994 verskaf is met nagenoeg 4,3 miljoen HOP-huise wat teen 2014 gebou is. Terselfdertyd staan die huidige agterstand op ongeveer 2,3 miljoen huise. Dit groei teen amper 200 000 per jaar en dit gaan nagenoeg R800 miljard kos om die agterstand uit te wis (sien Africacheck.org). Daar is ongeveer 2 700 informele nedersettings regoor Suid-Afrika met die sogenaamde “backyard dwellers” wat nou amper meer is as die “informele nedersetters.”


Intussen het die staat aangekondig dat behuisingstekorte vanweë ‘n geldtekort eers gestop is. ‘n Lae-intensiteit oorlog oor grond vir behuising woed egter op baie plekke. PRASA se onlangse aankondiging dat mense wat op spoorlyne bly, verwyder gaan word, is maar ‘n enkele voorbeeld.


Opsommend het die volgende duidelik geword:


· Daar is ‘n beleid in plek, maar hopeloos te min geld en ‘n trae, onbeholpe implementering.

· Terwyl grondonteiening ‘n groot punt van dispuut is, word die vraag gevra waarom daar nie meer staatsgrond beskikbaar gestel word nie.

· Terwyl daar ‘n beleid in plek is, is dit duidelik dat huidige beleid, modelle en befondsing onvolhoubaar en uitgedien is.

· Die staat werk moeilik met vennote in die privaatsektor en die burgerlike samelewing saam. Hulle sal dit eenvoudig moet doen as hulle die wa deur die drif wil trek.

· Die onsekere situasie wat geskep is, skep steeds die ruimte vir grondgrype, kriminele elemente en politieke agendas wat die uitdaging verder kompliseer.

· Die hele kwessie van haweloses is ‘n eiesoortige problematiek en vra ‘n unieke aanpak.

· Die trae oordrag van titelaktes is steed ‘n enorme probleem.

· Ons weet dat daar heelwat mense in informele huise in die stad is, wat dit net as ‘n “tydelike” oplossing sien terwyl hulle daar werk. Hulle werklike huise is in die gebiede van waar hul kom. Die probleem is net dat ‘n generasie kinders in haglike sosiale omstandighede grootword wat ‘n verwysingsraamwerk by hul skep wat op sy eie weer tot nuwe probleme lei.

· Daar is baie stemme wat opgaan dat meer mense na aan die sakekern van ons stede gehuisves moet word. Dis verstaanbaar. Tog moet daar onthou word dat daar geen stad in die wêreld is waar almal na aan die sakekern kan woon nie. In Kaapstad se sakekern is daar byvoorbeeld net nie fisies plek vir nog 2 miljoen mense nie. Die vraag is: Hoe lyk ons infrastruktuur as dit by goedkoop vervoer vir arm mense kom? Die ellende is dat die struktuur tans telkens vernietig word.


Die kern van die probleem is dat ons met edel, maar uitgediende behuisingskonsepte werk. Is dit ‘n goeie ding om vir mense ‘n huis te gee? Of moet hulle bemagtig word om self huise te bou? Het die HOP-projekte nie kleurlose, identiteitslose stede geskep wat ‘n nuwe vorm van onmenswaardigheid in die hand gewerk het nie? Daar is veel meer vrae hangende.


Volgens Quinton Adams, ook bekend as die “Shackbuilder”, het die regering nie net by ‘n kruispad gekom nie, maar bevind hulle hulself in ‘n doodloopstraat. Die tyd het aangebreek om beide ander venote soos die burgerlike samelewing en die besigheidsektor te betrek. Nuwe innoverende oplossings vir hierdie komplekse probleem is dringend nodig. Die behuisingskrisis het die afgelope tyd reeds grootskaalse protesoptogte tot gevolg gehad, sonder enige grootskaalse positiewe uitkoms.


Wat ons nou benodig, is sosiale laboratoriums (innovasie) wat nuwe, bekostigbare en alternatiewe modelle op die tafel kan sit. Dit is in die verband wat Quinton, reusewerk doen. Volgens Quinton sien hulle daagliks hoe mense in informele behuising krepeer in hul armoede en wanhoop. Dit is die daaglikse belewenis van miljoene mense wat in die bouvallige en informele strukture of plakkershutte woon.


Adams en ‘n paar vrywilligers het begin om van die plakkershutte in ‘n informele nedersetting af te breek en dit dan met nuwe, sterk en gesonde strukture te vervang. Die huidige bouvallige strukture het nie vensters wat kan oopmaak nie en daar is ‘n skerp ongesonde reuk in die strukture wat veroorsaak dat mense baie siek raak. Die haglike omstandighede binne in die plakkershutte bevorder die proses van ontmensliking (dehumanizing) waar mense minderwaardig voel of, in hulle woorde, “minder mens voel (untermensch).” Die nuwe strukture wat gebou word, het meer vensters, beter lug ventilasie en meer spasie wat menswaardigheid bevorder. In die proses word die “shacks” van mense in die informele nedersettings en agterplaasbewoners (backyard dwellers) opgradeer. Selfs huislose mense wat op die strate woon, ontvang soms ‘n huis.


Ons is oortuig dat daar alternatiewe metodes en behuisingsmoontlikhede is wat gebied kan word om hierdie krisis op te los. Ons kan nie toelaat dat daar deur eensydige besluitneming en verwronge beleid, ‘n groter sosiaal-maatskaplike krisis geskep word nie. Dit het egter tyd geword dat kerke sal begin saamdink en saamdoen. Die kapasiteit en moontlikhede is beslis daar. In ‘n tyd waar ons baie saamdink oor sosiale kohesie en ‘n nuwe sosiale kontrak kan die kerk se bydrae tot behuisingsoplossings ‘n spelbreker word. Onthou, dit gaan nie net oor geld nie.


Baie word deesdae gesê oor (grond)onteiening sonder vergoeding. Dalk is die groot fout, wat ons gemaak het, dat ons nooit self ernstig genoeg oor restitusie was nie. Die proses is as’t ware in die regering se hande gelaat. So is ‘n geleentheid verbeur. Gelukkig het ons nou weer ‘n kans.


Braam is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuiens en Quinton is ‘n sielkundige wat veral bekend geword het vir sy daadwerklike hulp om die behuisingskrisis aan te spreek.


bottom of page