Publieke Getuienis
40 geskenke wat COVID-19 aan my gegee het
Braam Hanekom

Daar is ‘n gesegde wat lui dat elke donker vallei aan jou ‘n geskenk bied. Net jy kan dit vind en net jy kan dit oopmaak. Met COVID-19 is dit nie anders nie. Die afgelope dae het ek gaan sit en dink oor die mooi en goeie goed wat ek die afgelope tyd om my waargeneem en ontvang het.
1. Ek het my huis weer leer waardeer. Vir te lank was dit net ‘n oorslaapplek in ‘n te vol lewe. Ek kon regpak, mooimaak en hierdie ongelooflike gawe uit God se hand weer waardeer. Ek kon die voëls in die tuin hoor sing en het meermale gevoel ek wil so saamsing.
2. Die feit dat vliegtuie minder gevlieg het en motors minder gery het, het ‘n dramatiese impak op ons omgewing gehad. Dit waaroor ons so lank gepraat en voor gepleit het, het danksy COVID-19 gebeur.
3. Daar is wonderlike nuwe netwerke in plaaslike gemeenskappe gestig. Mense het uitgereik, saam gestaan en mekaar op ‘n nuwe manier leer ken en dien.
4. Gesinne het vroegoggend saam gaan stap. Ek kan nie onthou dat ek al ooit soveel gesinne saam sien stap het nie.
5. Ek het nuwe maniere van bid ontdek. Die zoom-gebedsbyeenkomste wat ek met mede-lidmate, maar ook ekumeniese vriende gehad het, was van my mees spesiale en mees intiemste gebedsgeleenthede ooit.
6. Daar was tyd om na te dink – oor alles. Nuwe prioriteite, nuwe maniere van werk, ‘n nuwe manier van dink oor die samelewingsorde, die ekonomie, die politiek en die kerk.
7. Die verrassende geselsies met bure oor die muur was heerlik en spesiaal.
8. Ons het weer ontdek dat die mens ten diepste ‘n sosiale wese is. Ons maak mekaar seer en selfs dood, maar ons het mekaar so nodig. Die gawe van aanraking en ‘n gesig wat jy vol sien glimlag is iets wat ons mis, maar ons het dit weer leer waardeer.
9. Ons het opnuut geleer dat oumense baie eensaam kan wees. Dit is in die dae van inperking onder die vergrootglas geplaas. Mag ons na die inperking met groter sensitiwiteit teenoor hulle lewe.
10. Dieselfde geld vir terminale pasiënte. Om te sterf kan baie eensaam wees en mense angstig laat, al is ons gelowiges. Sulke mense het besonderse ondersteuning nodig.
11. Ek het opnuut geleer hoe ‘n groot geskenk my kleinkinders is. Ek mis hul so baie.
12. Die laatmiddag (en ook laatoggend) koffies saam met my vrou was kosbaar. Ons kon diep gesprekke hê oor ons kinders, ons prioriteite en die toekoms.
13. Dit het my ‘n tyd geneem om weer in ‘n behoorlike en ruim gebedsritme te kom. Besige mense verstaan nie hoe maklik ons verleer om te bid nie.
14. Die vroegoggend oefen, as die son opkom, was kosbaar. Ons moes, want die regering het besluit (om redes wat net hul verstaan), dat ons net tussen 6 en 9 kon oefen. Ek was meestal van 8 uur af in vergaderings, so ek moes vroeg oefen, wat ek nie gewoonlik doen nie. Dit was baie spesiaal! (En glad nie so koud nie…)
15. Die eerste keer wat ek weer die see gesien het na ‘n paar weke, was ongelooflik.
16. My skoonma is in die tyd begrawe. Ons het ‘n zoom uitsending gereël en vriende en familie regoor die wêreld kon daarin deel. Sonder Covid-19 sou ons seker nooit daaraan gedink het nie.
17. Soos ons begin besef het dat kos al skaarser begin word, en kosuitdeel nie volhoubaar is nie, het ons groentesaad begin versprei. Mag dit sommer baie nuwe moontlikhede open.
18. Ek het tyd gehad om lank na die baldadige gespeel van die eekhorings in my tuin te sit en kyk.
19. Elke glasie wyn is stadig, versigtig en met waardering gedrink. Ek was van vooraf dankbaar dat ek nie rook nie.
20. Daar was dae wat jy besef het dat dit ‘n onnatuurlike situasie is en dat ‘n mens se emosies deurmekaar kan loop. Dit was is ‘n tyd vir vasbyt, selfdissipline en die opbou van innerlike krag. Deur dit wat jy self kan doen en veral wat God vir jou doen.
21. Ons dink nie maklik vanself ernstig oor die dood nie. Dit wat ons so maklik en vanselfsprekend glo, moes opnuut deurgrond en getoets word. Ons het ontdek dat geloof inderdaad kosbaarder is as goud.
22. Ek het 60 geword in die tyd en is gespaar van die verpligting en sosiale druk om ‘n groot partytjie te hou.
23. Ek het geleer om goed self in die huis te doen wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie.
24. My sosiale media vaardighede, asook ander middele van kommunikasie soos deur TEAMS en ZOOM is opgeskerp.
25. Genadiglik hoef ek vir ‘n paar maande nie die binnekant van ORT lughawe te gesien het nie. Wat nog te sê die binnekant van ‘n vliegtuig.
26. Ure se reistyd is gespaar.
27. Ek kon vir my kleinkinders wolf-en-jakkals-stories oor zoom vertel. Daardie gesiggies wat vasgenael voor die skerm sit sal ek nooit vergeet nie.
28. Seker omdat die restaurante toe was, was sommige vliespryse van die laagste in jare.
29. So ook petrol… net jammer ons kon nie ry nie.
30. My hare was weer so lank soos toe ek student was… en my vrou het dit gelove… 😊
31. Ek het eenvoudiger en minder formeel aangetrek en dit het niemand gepla nie.
32. `n Mens kon lekker koffie en beskuit in zoom-vergadrings sit en drink en eet en dit het niemand gepla nie.
33. Dit het jou nie meer gepla dat jy nie geld het om oorsee te reis nie, want niemand kon dit doen nie.
34. Jy het opnuut besef hoe wonderlik (en virusvry) die oop ruimtes van die Karoo is.
35. Mense het lank voorspel dat ons ‘n nuwe samelewingsorde nodig het. Skielik het jy besef dat jou geslag die een is wat realisties daaraan kan meewerk en daarvoor onthou sal kan word.
36. Gewone mense kon ‘n sakgeldjie uit naaldwerk (maskers) verdien.
37. Ons het minder geld verdien maar het baie gespaar.
38. Ek het al minder aan sommige WhatsApp groepe begin aandag gee.
39. Sommige politici is ontmasker vir wat hulle regtig is.
40. Ek het opnuut besef hoe afhanklik ek van God is.
#faith #COVID19 #pandemic #Lockdown #SouthAfrica #StrongerTogether